Ons is trots daarop dat ons produkte help om ’n groeiende wêreldbevolking te voed. Die bestryding van plae is een manier waarop boere die grootte van hulle opbrengs wat die mark bereik, kan vergroot. Dit is ’n praktyk met ’n lang en eerbare tradisie; Homerus beskryf die gebruik van swael om plante teen insekte te beskerm en Marco Polo berig dat die Chinese arseen vir dieselfde doel gebruik het.
Vandag weet ons dat vernietigde landerye nie noodwendig die grootste probleem is nie. Baie insekte dra ook plantsiektes oor, gewoonlik virus- of swamsiektes. Ander val koswinkels aan en veroorsaak skade nadat gewasse reeds geoes is.
Maar nie alle insekte is skadelik vir mense nie. Baie, soos die sluipwesp of liewenheersbesie, word as voordelig beskou omdat hulle peste vreet.
Ons moet die insekte wat ons help, beskerm terwyl ons ontslae raak van dié wat dit nie doen nie. Daarom ontwikkel ons by Bayer slegs insekdoders wat veilig is wanneer dit op ’n verantwoordelike en korrekte wyse gebruik word en wat geen gevaar vir die mens of die omgewing inhou nie. Ons bemark in baie lande ook biologiese insekdoders met mikroörganisme-gebaseerde insekdodende werking.
Vandag is biologiese insekdoders wêreldwyd deel van gewasbeskermingspraktyke. Dit gee boere ’n nuwe doeltreffende opsie, wat hulle in staat stel om hulle plaagbestrydingsmaatreëls te verander en die moontlike ontwikkeling van weerstand te voorkom. Hierdie produkte voldoen aan die beginsels van geïntegreerde plaagbestuur. Dit kan meermale en selfs kort voor die oes toegedien word. As sodanig is biologiese middels ’n belangrike instrument in volhoubare landbou.